Nuusbrief


2014-03-05
Só lyk vlakke van armoede in SA


 

 
 

Pretoria. - Byna die helfte van die huishoudings in die Oos-Kaap en die Vrystaat (48% in albei gevalle) leef op R800 of minder per maand.

Dié bedrag verteenwoordig die huishoudelike "armoedelyn" wat Statistiek Suid-Afrika (SSA) gebruik het om armoede in die land se provinsies, distriksrade en landdrosdistrikte op 'n enkele plakkaat te karteer.

Die plakkaat toon net twee provinsies in Suid-Afrika het armoedevlakke van minder as 20%. In Gauteng en die Wes-Kaap leef 12% van die huishoudings op R800 of minder per maand.

Die Noordelike Provinsie is naas die Oos-Kaap en die Vrystaat die armste provinsies, met 38% van huishoudings wat op R800 per maand of minder leef.

Die syfers vir die ander provinsies is 37% in Noordwes, 35% in die Noord-Kaap, 26% in KwaZulu-Natal en 25% in Mpumalanga.

Die armoedeplakkaat is die eerste in sy soort in Suid-Afrika.

Dis 'n gesofistikeerde instrument om die omvang van armoede in verskillende gebiede, wat van 'n groot provinsie tot 'n klein woongebied in 'n dorp kan wissel, akkuraat te karteer.

Die inligting is noodsaaklik vir die Regering, hulporganisasies en ander instellings wat ingeligte besluite moet neem om armoede en ongelykheid hok te slaan.

Om genoeg data te versamel om armoede net tot op die vlak van landdrosdistrikte te karteer, was 'n massiewe taak omdat SSA weens 'n gebrek aan historiese data feitlik van meet af aan moes begin.

Die vorige regering het nie veel erg aan die versameling van statistieke en data oor armoede gehad nie, is gesê.

Uiteindelik sal die proses, waarin geleun word op data wat deur nasionale sensusse elke vyf jaar en ander meer gereelde peilings ingesamel word, só verfynd wees dat armoede selfs tot op straatvlak gekarteer sal kan word.

In sy toespraak by SSA se amptelike bekendmaking van die armoedeverslag en -kaart, het die Minister van Finansies, mnr. Trevor Manuel, gesê dis nog nie naastenby verfynd genoeg om die vlak van ongelykheid in 'n bepaalde gebied te meet nie.

Die kaart wys byvoorbeeld dat Cullinan met 'n gemiddelde huishoudelike besteding van R2 083 die armste en Pretoria met 'n besteding van R6 487 die rykste stad in Gauteng is. Maar die verslag sê niks oor armoede in Pretoria self nie.

Om ingeligte beleidskeuses te maak, het Manuel gesê, moet Waterkloof byvoorbeeld met Mamelodi vergelyk kan word.

Die Regering moet van inligting voorsien word op 'n wyse wat hom in staat sal stel om die "ware dimensies" te verstaan van 'n probleem wat nou "dringend" getakel moet word.

Daar is baie beleidsvrae wat met die statistieke beantwoord moet word.

"Moet ons byvoorbeeld beplan om werkgeleenthede en infrastruktuur in die stede te ontwikkel en onderwysgeleenthede in plattelandse gebiede te voorsien terwyl ons mik na 'n verstedelikte land met funksionerende stede sonder krotbuurte?"

Verskillende aspekte van armoede word met verskillende indekse gekarteer.

Syfers oor maandelikse huishoudelike besteding was die grondslag van die kaart wat aandui dat die Oos-Kaap en die Vrystaat die armste provinsies en Gauteng en die Wes-Kaap die rykste provinsies in die land is.

Die syfers het ook bepaal dat die armste distriksraad die Wildekus is, gevolg deur die Kei-distrik, albei in die Oos-Kaap. Die rykste is die vier metropolitaanse rade in Gauteng, gevolg deur die Kaapse Metropolitaanse Raad.

Die armste landdrosdistrik in die land is Elliotdale, gevolg deur Willowdale, albei in die Oos-Kaap. Die rykste is Pietersburg in die Noordelike Provinsie, gevolg deur Germiston en Pretoria in Gauteng, Soutpansberg in die Noordelike Provinsie en Bellville in die Wes-Kaap.

Die indeks vir huishoudelike infrastruktuur en die indeks vir huishoudelike omstandighede is gebruik om onderontwikkeling in Suid-Afrika te meet.

Die indekse werk met faktore soos soort behuising, toegang tot elektristeit en water, soort toilet, toegang tot 'n telefoon, vullisverwydering, vlak van opleiding van die hoof van die huishouding, gemiddelde maandelikse uitgawes per huishouding en die werkloosheidskoers.

Die indeks vir huishoudelike infrastruktuur het getoon die Oos-Kaap is die provinsie met die grootste behoeftes aan infrastruktuur soos skoon water en sanitasie. Naas die Oos-Kaap het die Noordelike Provinsie, KwaZulu-Natal, Noordwes, Mpumalanga en die Vrystaat die grootste behoefte aan infrasruktuur.

Die Noord-Kaap het vanweë sy klein bevolking die kleinste behoefte aan infrastruktuur.

Die indeks vir huishoudelik omstandighede toon die Oos-Kaap, gevolg deur KwaZulu en die Noordelike Provinsie, het die grootste behoefte aan beter lewensomstandighede soos werkskepping en gesinsbeplanning.

Dit toon Gauteng, weens sy groot aantal huishoudings en groot getalle mense wat op soek na werk na dié provinsie verhuis, is vierde in die ry van behoeftes.

Daarna eers kom Mpumalanga, Noordwes, Vrystaat, Wes-Kaap en Noord-Kaap.

Op nasionale vlak vertel die indekse 'n verhaal van groot armoede.

Altesame 12% van Suid-Afrika se huishoudings het nie toiletgeriewe nie, meer as die helfte van die land se huishoudings het nie krane in die huis nie, byna die helfte van die land se huishoudings bly in huise met drie of minder kamers en 'n derde van huishoudings woon in plakkershutte. 
mwaldner@rapport.co.za 

- Rapport